Israeliese soldate het oornag ‘n groot inval binne die Gaza-strook uitgevoer om Hamas-teikens aan te val, berig die Israeliese Weermag se radiodiens. Volgens Reuters is dit groter as operasies wat voorheen uitgevoer is. The Times of Israel berig troepe en tenks is via die noorde van die Gaza-strook ingestuur en na die klopjag uit die gebied onttrek. Intussen het Israel se premier, Benjamin Netanyahu, Woensdagaand in ‘n regstreekse televisie uitsending gesê die Israeliese weermag word voorberei en dat Hamas verdoem is. Hy het gesê die weermag se operasies sal eenparig deur die land se oologskabinet bepaal word. Hy het inwoners aangemoedig om die pyn te onthou wat Hamas se aanval veroorsaak het en waarom Israel die groep sal uitwis.