Onder die talle slagoffers van die oorlog wat die naweek in Israel uitgebreek het, was ‘n Joodse vrou wat in Wepener in die Vrystaat grootgeword het. Netwerk 24 berig die 65-jarige Marcel Talia is Saterdag, ‘n dag na haar kleinkind se geboorte in die aanvalle deur Hamas-militante doodgeskiet. Byna 700 mense is in Israel dood en byna 2-duisend 300 beseer. In Israel se lug-teenaanvalle in Gasa is meer as 370 mense dood. Sowat 2-duisend 200 is beseer. Vriende en familie van Talia het gesê sy en familie het op ‘n plaas naby Wepener gebly en was ‘n ontsettende goeie en liefdevolle mens. Sy het in die laat tagtiger jare na Israel verhuis en met ‘n Suid-Afrikaner getrou. Sy het op Bersheba op ‘n plaas gewoon en het haar dogter, Liora ben Tsur se huis op ‘n kibboets naby Hadarom opgepas toe die oorlog uitbreek. Talia is ‘n dag nadat Liora geboorte geskenk het aan ‘n dogtertjie, Asif, dood in die kibboets naby die grens met Gaza gevind. Sy is met ‘n AK-47 afgemaai.
