‘n Kenner oor kospryse het die week by AgriSA se jaarkongres vir boere gevra om die minimumloon vir werkers te betaal. Mervyn Abrahams van die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group, of PMBEJD, het gesê sowat 25% seuns en 30% meisies se groei is reeds belemmer wanneer hulle die werksmag betree. Dit as gevolg van swak voeding. Volgens Netwerk stel PMBEJD maandeliks ‘n indeks van huishoudelike bekostigbaarheid saam waarin die pryse van 44 basiese kosprodukte gemeet word. Dit is kossoorte vir arm gesinne soos mieliemeel, brood, groente en kookolie. Abrahams het gesê weens die hoë kospryse het dit bykans onmoontlik geword vir arm huisgesinne om genoeg gesonde kos te eet.