Inwoners van sekere gedeeltes van Bloemfontein ervaar onderbrekings in watervoorsiening as gevolg van ‘n kragonderbreking by die Maselspoort-waterbehandelingsaanleg.
Luidens ‘n verklaring van die Mangaung Metro Munisipaliteit (MMM) sluit die geraakte gebiede Heuwelsig, Pentagon Park, die Middestad en Dan Pienaar in.
Die Stad se kragmaatskappy, Centlec, het tegnici gestuur wat op die terrein werk om die 33KVA-fout reg te stel.
Terwyl herstelwerk aan die gang is, versoek die MMM inwoners om water spaarsaam te gebruik.
Inwoners word aangeraai om aktiwiteite soos motorwas, die vul van swembaddens, tuinmaak, die was van sypaadjies en die gebruik van meer as 10,000 liter water te vermy.
Waterbeperkings sal vooraf gekommunikeer word indien nodig.
