’n Leerling is weens ’n fratsongeluk op die krieketveld oorlede.
Netwerk24 berig Retshegofetse Sennelo van Hoërskool Krugersdorp het vir sy skool se eerstespan krieket teen Christian Brothers’ College Boksburg gespeel.
Gedurende die wedstryd het Sennelo glo teen ’n spanmaat vasgehardloop waar hulle veldwerk gedoen het.
Beide het bly lê, en die nooddienste by die wedstryd het bepaal dat die een bewusteloos was en die ander asemnood ervaar het.
In die ambulans het Sennelo se hart glo gaan staan, en ’n noodoperasie kon hom nie red nie.
Die ander leerling is die afgelope naweek vir harsingskudding behandel voordat hy ontslaan is.
Sennelo se ma, Mabuela, sukkel om die skok te verwerk en gebruik medikasie om haar te kalmeer.