‘n Oplettende polisiebeampte in Virginia wat van diens af was, het gesorg dat ‘n misdadiger in hegtenis geneem is wat na bewering al ‘n geruime tyd outomatiese teller masjiene, of OTM’s, teiken en mense se bankkaarte steel. Sersant Bulelani Bangani het die voorval dopgehou en gesien hoe ‘n persoon uit sy bankkaart bedrieg word. Bangani het die verdagte genader terwyl ‘n tweede verdagte in ‘n motor weggejaag het. Polisielede in die omgewing het kom help en die verdagte is met ‘n bankkaart en kloon-toestel vasgetrek. Volgens kaptein Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, word die verdagte verbind aan soortgelyke gevalle in Virginia, Thabong en Welkom. Die verdagte, Kagiso Morotolo, het reeds in die hof verskyn. Die saak is uitgestel tot 10 November.