‘n Nasionale ramptoestand is waarskynlik weer Suid-Afrikaners se voorland.
Volksblad berig die nasionale uitvoerende komitee van die ANC, het besluit dat ‘n ramptoestand, soortgelyk aan dié wat tydens die Covid-19-pandemie gegeld het,
nodig is om die energiekrisis op te los.
President Cyril Ramaphosa het in sy afsluitingstoespraak gesê planne hiervoor moet so gou moontlik bespreek en gefinaliseer word.
Hy het gesê die kwessie sal môre indringend op die kabinet se lekgotla in Pretoria bespreek word.
Daar sal dan gekyk word na watter maatreëls in gevolge die ramptoestand sal geld.
Volgens Ramaphosa stem tradisionele leiers, vakbonde en sake-ondernemings saam dat ‘n ramptoestand weens die kragkrisis afgekondig moet word.