‘n Wetsontwerp waarin Amerika sy bilaterale betrekkinge met Suid-Afrika heroorweeg, dien tans voor die Amerikaanse kongres. Sou die wetsontwerp aanvaar word, moet Amerika al sy bilaterale betrekkinge met Suid-Afrika binne vier maande hersien. Maroela Media berig die beweegredes vir die wetsontwerp, wat steun van beide die Republikeine en die Demokrate gekry het, spruit voort uit die Suid-Afrikaanse regering se geskiedenis met kwaadwillige groepe soos Hamas asook hegter bande met Rusland en China.
Die ANC se beweerde wanbestuur van staatshulpbronne en korrupsie word ook genoem. Volgens die wetsontwerp het die Suid-Afrikaanse regering bewys hy is onbevoeg om basiese openbare dienste te lewer. Die wet sluit ook in dat die aksies van die ANC teenstrydig is met die party se beleid van onpartydigheid in internasionale aangeleenthede. Die dokument maak ook voorsiening van SA se sterk verhouding met Rusland. Die sluit militêre oefeninge met Rusland en China gedurende 2023 in.
Volgens die wetsontwerp ondermyn die ANC se buitelandse beleidsaksies Amerika se nasionale sekuriteit en buitelandse belange. Indien die wetsontwerp slaag, moet president Joe Biden binne 30 dae ‘n verslag saamstel oor voortgesette betrekkinge tussen Amerika en Suid-Afrika.