‘n Ongeïdentifiseerde mansstem op WhatsApp het die land sedert gister in rep en roer oor ‘n beweerde totale ineenstorting van die kragnetwerk, maar die stemboodskap blyk slegs ‘n poging te wees om paniek te saai.
In die stemnota, wat Rosestad 100.6FM-nuus ook vanuit talle oorde bereik het, word dié fopnuus blykbaar deur die voorsitter van Old Mutual gesteun.
‘n Anonieme manspersoon vertel dat hulle in kennis gestel is van ‘n beplande ramptoestand wat op 9 Desember deur president Cyril Ramaphosa afgekondig gaan word, as gevolg daarvan dat die land se kragnetwerk dan heeltemal in duie gaan stort.
Old Mutual het bevestig dat die stemnota valsnuus is en dat ‘n grootskaalse ondersoek van stapel gestuur is om die identiteit van die man vas te stel.
Old Mutual het verder gesê dat hy hom geheel en al van die boodskap, wat hy as ongegrond bestempel, distansieer.