’n 38-jarige Vrystaatse pa is skuldig bevind nadat hy sy 16-jarige seun in die Mafube distrik aangerand het.
Luidens ’n polisieverklaring het die slagoffer se ooms hom genader en gesê sy pa wil hom sien.
By sy pa se huis het die beskuldigde hom met ’n sambok op sy rug, hande en kop geslaan, wat sigbare beserings veroorsaak het.
Die slagoffer het later sy ouma ingelig, wat hom na ’n polisiestasie vergesel het om ’n saak van huishoudelike geweld aanhangig te maak.
Na ’n ondersoek is die saak in die Frankfort-landdroshof verhoor. Die beskuldigde is gevonnis tot ’n boete van R4 000 of agt maande tronkstraf, wat vir vyf jaar opgeskort is.