Vier mense, insluitend ‘n sesjarige, is naby Postmasburg in die Noord-Kaap dood, toe ‘n goederetrein ‘n bakkie tref wat op die spoorstawe vasval. Die bestuurder van die bakkie – met twaalf lede van dieselfde gesin – wou die treinspoor glo oorsteek om kortpad te vat na ‘n nabygeleë woongebied.
SABC News berig sekere van die volwassenes het van die bakkie afgespring, en het probeer om die voertuig van die treinspoor af te stoot. Drie ander mense het beserings opgedoen en word in die hospitaal behandel.
Dit is die tweede botsing tussen ‘n trein en ‘n voertuig binne etlike dae. Rosestad-nuus het vroeër berig ses kinders is in Mpumalanga dood toe ‘n trein Donderdag met ‘n skolierbus bots. Twintig ander kinders, asook die busbestuurder is in die hospitaal vir beserings behandel.