‘n Voormalige lid van die lugmag het vandag in die landdroshof op Hopefield verskyn in verband met die moord op die 61-jarige Estelle Eksteen van Langebaan. Eksteen is Saterdag in die vroeë oggendure die laaste keer lewend gesien nadat sy die Casino op Langebaan verlaat het. Die oorledene se man en seun wat op Moorreesburg woon, het Sondag op haar bebloede liggaam in haar duppelverdieping-huis afgekom. Sy is verwurg en verskeie kere met ‘n mes gesteek.
‘n Buurman van Eksteen het verlede Saterdagoggend ‘n man in haar kombuis gesien en ‘n verklaring by die polisie afgelê. Die 51-jarige Anthony Jacobs word voorlopig aangekla van moord en roof met verswarende omstandighede. Hy het aan die hof gesê hy kan nie ‘n prokureur bekostig nie. Die saak is tot 19 Maart uitgestel.