‘n Voormalige plaaswerker wat glo ‘n vrou van die Trompsburg-distrik verkrag het, moet vir toetse gaan voordat hy sal weet of hy op mediese gronde vrygelaat sal word.
Netwerk24 berig die 41-jarige verdagte se saak is deur die hooggeregshof in Bloemfontein met ‘n maand uitgestel, sodat ‘n mediese verslag met meer besonderhede verkry kan word.
Die man staan op aanklagte van verkragting, huisbraak met die opset om te roof en poging tot seksuele aanranding tereg. Dit nadat hy glo in Julie 2022 ‘n vrou en haar vriend op ‘n plaas oorval het.
Na bewering het hy die paartjie glo herhaaldelik met die dood gedreig voordat hy die vrou gewurg, geslaan en verskeie kere teen die gesig getrap het terwyl hy haar verkrag het.
Luidens sy aansoek om op mediese gronde vrygelaat te word, is hy baie siek, en kan hy nie behoorlike loop nie. Hy is glo ook bedlêend.