Die voormalige spioenshoof en eerste direkteur-generaal van die Wes-Kaap ná 1994, Dr. Niël Barnard is oorlede.
SABC News berig hy was bekend as die eerste verteenwoordiger van die destydse Suid-Afrikaanse regering wat met die toe-verbode ANC onderhandel het oor ’n vreedsame oorgang na ’n grondwetlike demokrasie.
Barnard het in 1968 sy studies aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin en ’n Baccalaureus Artium-graad in Politieke Wetenskap en Geskiedenis behaal.
Barnard het eers die aandag van P.W. Botha getrek nadat hy ’n Ph.D. proefskrif aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat geskryf het, hoewel Barnard in ’n 1992-koerantonderhoud sou beweer dat hy nie seker was hoekom hy gekies is nie, aangesien hy geen intelligensie-ondervinding gehad het nie.
Botha het Barnard in November 1979 aangestel om ’n nuwe intelligensiediens te vorm.
Volgens ’n verklaring deur die familie is die 75-jarige Barnard op 13 Januarie 2025 vreedsaam in Gansbaai, Wes-Kaap, oorlede ná ’n lang stryd teen kanker.