Nagenoeg 35 000 mense wat Suid-Afrika onwettig wou binnekom, is sedert Julie verlede jaar vasgetrek.
Die minister van binnelandse sake, doktor Aaron Motsoaledi, sê dit wys die nuwe Grensbestuursowerheid, of GBO, werp reeds vrugte af.
Die eerste groep van 200 grenswagte is in Augustus verlede jaar onder die GBO-vaandel ontplooi.
Dié owerheid – wat voorheen binne die struktuur van binnelandse sake werksaam was – is in Oktober deur president Cyril Ramaphosa tot onafhanklike entiteit verklaar.
Ongeveer een miljard rand se vee, word jaarliks in die Vrystaat gesteel, meeste hiervan langs die provinsie se grens met Lesotho.
Minstens 3 000 van verlede jaar se 27 000 veediefstalsake is in die Vrystaat aangemeld.
Die Maseru- en Ficksburg-grenspos in die Vrystaat, is twee uit ses Suid-Afrikaanse grensposte wat by die GBO se multimiljardrand-opknappingsplan sal baat.