Die laaste twee kameelperde op Naval Hill het gevrek.
Luidens ‘n verklaring van Friends of Franklin het die twee vroulike diere – die vyfjarige Kariba en die vierjarige Zuri – skielik gevrek weens ‘n dodelike bakteriële infeksie.
Aanvanklik is die moontlikheid oorweeg dat weerlig die diere getref het tydens die storm in Bloemfontein op 3 Januarie 2025, maar ‘n nadoodse ondersoek deur dierekundiges het die werklike oorsaak bevestig.
Die bakterieë Clostridium novyi / chauvoei kom algemeen voor in grond en die spysverteringskanale van diere – en is tipies onskadelik onder normale toestande.
Akute en dodelike infeksies kan egter onder spesifieke omgewingsomstandighede ontwikkel, soos langdurige droogteperiodes. Hierdie infeksies word dikwels veroorsaak deur die spruit van nuwe plantegroei na reënval.
Die gifstowwe wat deur hierdie bakterieë vrygestel word, lei tot ‘n vinnige vordering van siekte.