Die Nasionale Energiereguleerder, of Nersa, het bevestig dat Eskom vinnig besig is om sy diesel begroting vir die 2024/2025 geldjaar teen ‘n kommerwekkende koers uit te put. Maroela Media berig dit volg na herhaalde ontkennings deur die Eskom-raadsvoorsitter, Mteto Nyati en die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgpoa, dat Eskom diesel verbrand om die ligte aan te hou.
Volgens Nersa het Eskom in een maand meer as die helfte van sy kwartaallikse begroting vir diesel vir die eerste kwartaal van die finansiële jaar spandeer. Volgens The Mail and Guardian het ingeligtes in Eskom gesê die nutsmaatskappy se dieselspandering beloop byna R7 miljard. Dit word verbind met politieke druk voor die algemene verkiesing.