Die haalbaarheid van die Nasionale Gesondheidsversekering, of NGV, onder die ANC-regering is blote wensdenkery, het die Vryheidsfront Plus in ‘n verklaring gesê. Die ANC wil met die NGV ʼn fabel aan kiesers verkoop wat nie eens in ʼn moderne Eerste Wêreldse-land soos die Verenigde Koninkryk kan werk nie, het Fanie du Toit, LP van Noordwes gesê. Die gewaande strewe van die NGV is om aan alle burgers gelyke mediese behandeling te gee. Du Toit het gesê almal in Suid-Afrika sal uitgelewer wees aan die nagmerrie waartoe staatshospitale in Suid-Afrika verval het. Die verdoemende verslag wat die VF Plus verlede week bekend gestel het oor die gruwels in staatshospitale is ’n duidelike bewys dat die staat nie in staat is om na die welstand van sy landsburgers om te sien nie. Du Toit het gesê die situasie is só kritiek dat die staat se gesondheidsinstellings die wesenlike gevaar loop om binne die volgende vyf jaar sonder effektiewe mediese geriewe te sit. Die regering kan nie behoorlike basiese mediese sorg aan pasiënte in staatshospitale verskaf nie weens wanbestuur en korrupsie nie.