Nie almal in die parlement is oortuig dat die minister van Justisie, Thembi Simelane, se verduidelikings oor haar lening van ‘n VBS-kontrakteur die waarheid is nie. Daar is vrae oor Simelane se redes vir die verkryging van ‘n lening van Gundo Wealth Solutions.
Dié maatskappy is nie ‘n geregistreerde finansiëlediensteverskaffer nie en is weens hierdie rede nie by magte om lenings toe te staan nie. Daar is veral kommer oor ʼn botsende belange, aangesien Simelane, as die minister van Justisie gesag oor die Nasionale Vervolgingsgesag moet uitoefen. Dit is die einste NVG wat diegene moet vervolg wat skuldig is aan plundery van VBS-bank.