‘n 19-jarige Nepalese leerling-vlieënier, wat in Suid-Afrika was vir gevorderde vlugopleiding, is een van twee mense wat gister dood is, toe ‘n ligte vliegtuig by Nasrec in die suide van Johannesburg neergestort het.
Dít terwyl Nepal se grootste lugramp in drie dekades hom in dié Suid-Asiatiese land afgespeel het.
‘n ATR 72-vliegtuig van Yeti Airlines, met 72 mense aan boord, was van die hoofstad Kathmandu na Pokhara onderweg, toe dit kort voor sy landing geval het.
Die lyke van 68 mense is sover gevind.
Netwerk24 berig, hoewel nie uit amptelike oorde nie, het lugvaartkenners vanuit Nepal bevestig dat die leerling-vlieënier, wat in Johannesburg dood is, van Nepal was.
Daar was twee insittendes in die Piper Twin Comanche wat by die Grand Central-lughawe in Midrand opgestyg het.
Albei is op die toneel dood verklaar.
Hulle name is nog nie bekend gemaak nie.