Drie mans wat in besit was van derduisende foto’s en video’s van kinderpornografie is in ‘n gesamentlike operasie tussen die Suid-Afrikaanse polisie en die Amerikaanse departement van binnelandse veiligheid in hegtenis geneem.
Maroela Media berig een van die mans het himself glo as ʼn tiener voorgedoen om minderjarige meisies na ʼn aanlyn kletsgroep te lok waar kinderpornografie versprei is. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê dit bring die getal verdagtes wat sedert November weens beweerde aanlyn seksuele misdaad teenoor kinders aangekeer is, op sewe te staan.
Die jongste inhegtenisnemings is op Worcester, Kraaifontein en Mitchells Plain gedoen. Klagte van onder meer toegang tot, verspreiding en besit van kinderpornografie staar hulle in die gesig.