Nog drie lande, Denemarke, Nederland en Spanje het toegetree om geld aan Suid-Afrika te gee om die land te help om van steenkool na herwinbare kragopwekking oor te skakel. Die geld van die vennootskap staan tans op ongeveer R222 miljard. Volgens Maroela Media is dit ‘n druppel in die emmer van wat Suid-Afrika nodig het om volkome onafhanklik van steenkool te word. Duitsland, die Verenigde Koninkryk, die Europese Unie en Amerika het reeds in 2021 onderneem om R131 miljard vir dieselfde doel te bewillig. Die ooreenkoms is egter onderhewig aan die finalisering van ‘n inwerkinstellingsplan. Die plan moes al in Augustus voltooi gewees het maar sal nou in November aan die kabinet voorgelê word.
