‘n Reuse ontploffing in ‘n militêre basis in Irak het tot die dood van ‘n lid van die Irakse veiligheidsmag gelei. Die bevelvoerder van die veiligheidsmag het gister se voorval in die Kalso-militêre basis sowat 50 km suid van Bagdad, as ‘n aanval beskryf. Die weermag sê egter daar was geen gevegsvliegtuie in die lug nie en dat die voorval ondersoek word.
Twee bronne het vroeër aan Reuters gesê dat ‘n lugaanval die ontploffing veroorsaak het, waarna ‘n lid van die paramilitêre staatsmag gesterf en agt ander gewond is. Die Iranese minister van buitelandse sake, Hossein Amirabdollahian, het Vrydag gesê Iran sal onmiddellik en tot die uiterste reageer indien Israel weer teen sy belange optree.