Die polisie is op soek na ‘n besigheidsman van Gqeberha wat Vrydagoggend buite sy werkplek ontvoer is.
Volgens ‘n Oos-Kaapse polisiewoordvoerder is Calvin Naidoo deur vyf gemaskerde verdagtes uit sy voertuig forseer en in hulle bakkie gedwing. Die rede vir sy ontvoering is onbekend.
‘n Ervare ondersoeker, Calvin Rafadi, het aan IOL gesê dat ontvoerings ‘n manier geword het om groot geld te maak. Volgens Statistieke SA (StatsSA) word meer as 16 000 ontvoerings jaarliks in Suid-Afrika aangeteken. Skokkend genoeg is dat 85% van hierdie slagoffers vroue en kinders is.
Redes vir die ontvoerings wissel van lospryseise tot mensehandel, dwelms, sakeskuld, vetes en, in sommige gevalle, vir muthi waar menslike liggaamsdele gebruik word.