Nog ‘n oorlewende is gister gered tydens dag vyf van die reddings operasie in George waar die Neo Victoria-woonstelgebou Maandagmiddag ineengestort het. Die operasie het teen drie uur gistermiddag reeds 121 uur geduur.
Die redding volg na ‘n besluit van die multi-agentskap bevelsentrum om voort te gaan met die gebruik van ‘n sistematiese redding-en herstelbenadering. Luidens ‘n verklaring van die sentrum het die jongste redding weer nuwe hoop gebring om voort te gaan met die reddings- en hersteloperasie. Die oorlewende, die 32-jarige Gabriel Guamba, is in die George-hospitaal opgeneem. Dertien mense is reeds dood verklaar en nog 39 word vermis.