Nóg swaar reënneerslae word vandag in dele van die Vrystaat en Noord-Kaap verwag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku die verwagte swaar reën kan tot kitsvloede in laagliggende gedeeltes lei. Motoriste word gemaan om spoed te verminder, hoofligte aan te skakel en om te alle tye veilige volgafstande te handhaaf. Voetgangers moenie die pad probeer oorsteek waar strome se watervlak hoër as enkeldiep is nie.

Swaar neerslae het die afgelope dae in dele van die Vrystaat uitgesak. Volksblad meld tot 100 millimeter reën is oor die Kersnaweek in die Dewetsdorp-, Wepener- en
Hobhouse-distrikte gemeet. By Rouxville, waar ongeveer 22 millimeter uitgesak het, is lewendehawe deur weerlig doodgeslaan. By Thaba ‘Nchu, buite Bloemfontein, is meer as 100 millimeter gemeet. Die Knellpoortdam by Wepener het op Kersdag oorgeloop. Hier het al meer as 200 millimeter in Desember geval.

Intussen sê die departement van samewerkende regering en tradisionele sake in Kwa-Zulu-Natal, hy sal die families bystaan wat deur die naweek se oorstromings in die Ladysmith-omgewing geraak is. Daar sal onder meer geld vir begrafnisse van die slagoffers beskikbaar gestel word. Minstens ses mense is dood, terwyl 12 mense teen gister steeds vermis was, nadat die Bellspruit Sondag sy walle oorstroom het.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×