Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) loop toenemend onder kritiek deur. Dit nadat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) onlangs onthul het dat R1,7 miljard nie oor die laaste vyf jaar benut is nie.
Die geld was veronderstel om behoeftige studente toegang tot hoër onderwys te gee. Volgens die SOE is die geld glo nie deur universiteite, onder meer die Universiteit van die Vrystaat, toegeken nie.
Maroela Media berig verder dat dit daarop dui dat swak administrasie en verkeerde toekennings steeds groot uitdagings bly. ‘n Voormalige student, Aleah Fontein, het aan The Citizen gesê sy moes haar toekomsdrome weens ʼn gebrek aan fondse prysgee – dit, terwyl daar ongebruikte fondse beskikbaar is.