Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) werk deurentyd om mense en diere uit stygende vloedwaters langs die Vaalrivier te red.
SABC News berig die Departement van Water- en Sanitasie het Vrydag die tiende sluis van die Vaaldam oopgemaak, nadat watervlakke 118% bereik het weens swaar reën.
Die NSRI waarsku dat kitsvloede steeds ‘n groot gevaar in laagliggende gebiede inhou.
Volgens woordvoerder Craig Lambinon weier sommige inwoners egter om te ontruim, wat hul lewens in gevaar stel.
Hy sê noodspanne is sedert vroeë waarskuwings in April al op hoë gereedheidsgrondslag.
Lambinon het inwoners dringend aangemoedig om bevele tot ontruiming ernstig op te neem.