Die metaalwerkersvakbond Numsa, het ‘n saak van aanranding teen Alfeco Holdings ingedien, nadat die maatskappy glo met rubberkoeëls op sekere van die vakbond se lede losgebrand het. Numsa-lede het buite die maatskappy se kantoor in Johannesburg betoog, teen die afdanking van 162 van SA Steel Mills se werkers.
Numsa-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê weens die beweerde gewelddadige optrede deur die maatskappy is alle werksaamhede by die maatskappy nou gestaak. Volgens die houermaatskappy, het die SA Steel Mills-werkers wat afgelê is, verlede maand met ‘n onwettige staking begin.