’n Eenstopfasiliteit wat slagoffers van geslagsgebaseerde geweld help, word in die Vrystaat geopen.
Volgens die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê hulle in ’n mediaverklaring, sal die adjunkminister van justisie, Andries Nel, volgende week saam met die nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, die belangrike sentrum amptelik bekendstel.
Die Thuthuzela Sorgsentrum sal by die Elizabeth Ross-hospitaal in Phuthaditjhaba wees.
Dit is die vyfde sentrum in die Vrystaat en bring die totaal in Suid-Afrika op 66.
Dié eenstopfasiliteite help slagoffers van geslagsgebaseerde geweld met mediese sorg, regshulp en berading op een plek.
Die doel is om sekondêre trauma te verminder, sake vinniger af te handel en die kans op skuldigbevinding te verhoog.
Die projek is ’n spanpoging tussen verskeie staatsdepartemente en organisasies.