Meeste groot boerderye in die land wat ‘n omset van meer as tien-miljoen-rand per jaar het, sal nou volgens nuwe regulasies van die regering nie meer na Brittanje en die Europese Unie kan uitvoer tensy hulle aan sekere swartbemagtigingsvereistes voldoen nie. Produkte soos vrugte, vrugtesappe, wyn, tafeldruiwe, melk, room, botter en neute is van die produkte wat luidens die kennisgewing in die staatskoerant geraak word. Boere wat aansoek doen om uitvoerpermitte, sal moet voldoen aan die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging asook die Agri SEB-sektor-kode. Theo de Jager van Saai, ‘n landbougroep wat na boerebelange omsien, het die naweek gesê die nuwe reëls sal groei en werkverskaffing belemmer asook buitelandse beleggers afskrik. De Jager het gesê dié reëls van die regering val nie binne internasionale protokolle nie en Saai beplan om hof toe te gaan. Die DA het ook reeds ‘n amptelike klagte by die handelskantore van die Europese Unie en Brittanje gelê.