‘n Belangrike stap in die regering se poging om ‘n staatsbank op die been te bring, is vandeesweek gedoen. Netwerk 24 berig die Nasionale Raad vir Provinsies, of NRP, het die wetsontwerp oor die Suid-Afrikaanse Posbank goedgekeur. Die wet maak voorsiening vir ‘n afsonderlike nuwe beheermaatskappy vir die Posbank, wat as die beoogde staatsbank gaan funksioneer. Tans val die Posbank nog wetlik onder die Suid-Afrikaanse Poskantoor, of Sapo. Sapo is tans finansieel in die moeilikheid. Om as volwaardige bank te funksioneer, moet Posbank ‘n bankbeheermaatskappy kry onder wie se toesig hy val, wat op sy beurt onder die departement van kommunikasie en digitale tegnologie sal wees. Die regering glo die Posbank is die ideale skep van ‘n staatsbank en sal via die uitgebreide netwerk van die poskantoor, regdeur die land tot in landelike gebiede by alle gemeenskappe uitkom.
