Alhoewel die nasionale direkteur van die Vervolgingsgesag (NVG) trots is op wat sy die afgelope vyf jaar kon bereik, het sy erken die staat kon al verder met staatskapingsake gevorder het.
Netwerk 24 berig adv Shamila Batohi het gesê daar is al aansienlik vordering gemaak en dat die NGV se beslagleggingseenheid tot op hede meer as ses-miljard-rand se staatskapingsgeld verhaal het.
Die eenheid het beslag gelê op meer as R14-miljard se staatskapingsbates, wat bewaar word. Batohi het Woensdag tydens ‘n mediageleentheid erken dit is nie so maklik om staatskaping te ondersoek nie want bewerings tydens die Zondo-kommissie is op grond van hoorsê gemaak.
Die NVG moet steeds die toelaatbaarheid van alle getuies kan bewys. Sy het bygevoeg die ondersoeke teen die Gupta-familie en die Phala-Phala-aangeleentheid is nog aan die gang.