Oefenkamp van die Springbok-vroue gaan voort

Ten spyte daarvan dat die Wêreldbeker-rugbytoernooi vir vroue nou amptelik nie meer vanjaar gaan plaasvind nie, sal die oefenkamp van dieSpringbok-vroue voortgaan en word dié groep selfs vergroot.

Nadat Wêreldrugby verlede week sy voorneme bekend gemaak het om die toernooi weens die Covid-19-pandemie na 2022 te verskuif, is die besluit Dinsdag bekragtig.

Die toernooi sou van 18 September tot 16 Oktober in Nieu-Seeland plaasgevind het.

Ter plaatse het ’n oefengroep bestaande uit 24 spelers sedert Januarie in Stellenbosch vir die toernooi voorberei.

Die plan was altyd dat die groep in Maart vergroot word na 40 spelers om ook diegene in te sluit wat weens werk of studie nie die eerste deel kon bywoon nie.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het in ’n verklaring dit duidelik gemaak dat voorbereiding vir die toernooi voortgaan.

Luister na potgooie hieronder