Die komediant Leon Schuster sê hy was “nie op ’n goeie plek” ná ’n tweede operasie nie. Dit, nadat hy by sy huis geval het terwyl hy nog van ‘n eerste operasie herstel het. Schuster, bekend vir sy poetse, het sy eerste operasie in Augustus 2023 ondergaan nadat hy uit ‘n bussie geval en homself beseer het terwyl hy ‘Mr Bones 3’ verfilm het.
IOL berig Schuster het in ‘n onderhoud met ‘n tydskrif gesê sy herstel het ‘n groot terugslag beleef nadat hy weer geval het. Ná die operasie het die 72-jarige veteraan-vermaaklikheidster uitgebreide fisioterapie deurgemaak om weer te leer loop. Hy het gesê dat hy deur ‘n moeilike tyd was en dit as ‘n absolute hel beskryf. Schuster, wat nou op ‘n kierie staatmaak, het gesê hy is gewaarsku dat as hy weer val, daar geen omdraaikans sal wees nie.
Volgens die publikasie sal Schuster nog ‘n operasie ondergaan, maar hy moet eers 15 kg verloor om te verseker dat hy nie verdere komplikasies opdoen nie.