Doktor Pedro Mzileni, omstrede sosiologie-dosent aan die Vrystaatse Universiteit se Bloemfontein-kampus, het uit sy pos bedank.
Die UV het vroeër ‘n dringende en formele ondersoek na Mzileni gelas, nadat AfriForum Jeug in Augustus ‘n klag van rassisme teen hom ingedien het.
Die universiteit se ondersoek het egter bevind Mzileni het hom nie aan haatspraak skuldig gemaak ten tyde van ‘n gaslesing wat hy in Julie op die kampus aangebied het nie.
AfriForum Jeug beweer die lesing was “belaai met aanmerkings wat rasseverdeling en vyandigheid aanvuur”.
UV-woordvoerder, Lacea Loader, het ontvangs van Mzileni se bedanking aan Netwerk24 bevestig. Loader sê hy het nie redes vir sy bedanking verskaf nie.