‘n Gewilde onderwyseres van Bloemfontein en lidmaat van die NG Gemeente Heuwelkruin in die stad, Chrisna van Wyk, 56, het verlede week naby Lambertsbaai in die see verdrink toe ‘n stroom haar meegesleur het. Ds Maurits Heyneman, leraar van die gemeente het gesê Van Wyk en ‘n vriendin, Ronel Kok, was met vakansie aan die weskus toe die tragedie hom afgespeel het. Van Wyk se worshondjie het in die see beland en kon nie uitswem nie. Kok het die hondjie probeer uithaal en ook in die moeilikheid beland. Van Wyk het hulle probeer red en is deur ‘n stroom die see ingetrek. Kok en die hondjie is ongedeerd. Ds Heyneman sê van Wyk was ‘n geliefde onderwyseres in die stad en ook ‘n lidmaat in sy gemeente wat by talle aksies betrokke was. Sy laat ‘n groot leemte agter.
