Met binnelandse skole wat hierdie week heropen het en kusprovinsies wat volgende week terug skoolbanke toe gaan, word onderwysers gevra om op die uitkyk te wees vir leerlinge wat moontlik simptome van masels kan toon.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, of Nios, het gesê die getal maselsgevalle wat in Suid-Afrika aangemeld word, styg daagliks.

Dit blyk ook dat die siekte vinniger begin versprei.

Altesaam 318 gevalle is altesaam in Oktober, November en Desember aangeteken met amper die helfte hiervan in Desember alleen.

Die uitbreking is egter steeds tot net vyf provinsies beperk. Limpopo het die meeste gevalle aangemeld, gevolg deur Noordwes en Mpumalanga.

In Gauteng is 14 gevalle tot einde Desember aangeteken en in die Vrystaat 11.

Slegs een voorval is sedert Oktober in die Oos-Kaap aangeteken, drie in die Noord-Kaap, vier in die Wes-Kaap en vyf in KwaZulu-Natal.

ʼn Uitbreking van masels is op 11 Oktober 2022 in Limpopo aangekondig.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×