Motoriste word aangeraai om die R721-pad tussen Kroonstad en Parys te vermy, het die polisie gevra. Die pad word as alternatiewe roete gebruik pleks van die N1-tolpad. Sowat 500 inwoners van die Mokwallo-township by Vredefort het vanoggend met betogings begin omdat hulle nie dienslewering het nie. Die skole in die dorp is gesluit en paaie in en om Vredefort word versper. Die polisie se woordvoerder, sers. Josephine Rani, het gesê geen skade is nog tot dusver aangerig nie en twee mans is vir openbare geweldpleging in hegtenis geneem. Die polisie se eenheid vir openbare orde is op die toneel. Betogers het vandag gedreig om die wateraanleg in Vredefort te beset.