Die onteiening van eiendom sonder vergoeding onder sekere omstandighede word waarskynlik vir Suid-Afrikaners ‘n gevreesde werklikheid. Netwerk 24 berig dit kom nadat ANC-LP’s in die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastrukteer Dinsdag hul meerderheid gebruik het om wysigings aan die Onteieningswetsontwerp wat die Nasionale Raad vir Provinsies, of NRP, aanbeveel het, te aanvaar.
Die NRP het meer as 20 wysigings aan die aanvanklike wetsontwerp gemaak wat deur die Nasionale Vergadering, of NV, aan hom gestuur is. Die DA, EFF en die ACDP het die wysigings en die wetsontwerp in sy geheel verwerp. Die VF Plus was nie teenwoordig nie. Die wysigings sal more in die NV ter tafel gelê word waar LP’s dit sal debatteer en oorweeg.
LEES MEER: Afriforum sal aanhou baklei teen onteieningswetsontwerp
Nolitha Ntobongwana, komitee-voorsitter, sê die wetsontwerp is deurslaggewend vir die ANC-regering se transformasieprogram.
Die DA en ander belanghebbendes dreig reeds om die wetsontwerp in die konstitusionele hof te beveg. Opposisiepartye is bekommerd dat die breë definisie van eiendom in die wetsontwerp kan lei dat nie net grond nie, maar ook mense se motors, pensioen, handelsname en kopiereg onteien kan word.