Die DA eis antwoorde van die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, nadat 787 buitelanders wat onwettig in die land is, Vrydag vrygelaat is. Die DA se adjunkwoordvoerder oor binnelandse sake, Adrian Roos, het gesê van die mense was betrokke by onwettige mynbedrywighede by Kleinzee aan die Namakwalandse kus. Roos het aan Netwerk 24 gesê slegs twee dae na die enorme suksesvolle polisie operasie om onwettige mynbou in Kleinzee te bekamp, is meer as 750 onwettige buitelandse mynwerkers weer vrygelaat weens die departement se onbevoegdheid. Paniekbevange gemeenskapslede het Vrydag laat weet dat die onwettige diamantdelwers te voet na Kleinzee teruggekeer het. Roos het gesê die onwettige buitelandse diamant delwers wat in die hof moet verskyn, word nie gedeporteer nie omdat die hofverrigtinge nie kan voortgaan nie want binnelandse sake sloer om hul onwettige status aan die hof te lewer. Dr. Wynand Boshoff, leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, het gesê die diamantvelde aan die Weskus is ‘n toenemende toneel van misdaad en lewensgevaarlike omstandighede vir inwoners. Die delwers voer ‘n skrikbewind in die omgewing, het hy gesê. Die polisie het intussen gesê dis teen die wet om onwettige immigrante te huisves en die publiek kan strafregtelik vervolg word.
