Grond wat as oop munisipale grond geoormerk is, sal vir onmiddellike behuising gebruik word. Dit is volgens die leier van Mangaung Forum for Service Delivery (MFSD) – Potso Motoko.
Hy het aan Rosestad-nuus gesê dit is in hierdie stadium vir hom onduidelik wie begin met die sogenaamde grondbesetting wat Saterdag die suide van Bloemfontein begin het, maar hy is op pad na die gebied om met verskeie rolspelers te vergader en die situasie te bespreek.
Motoko sê verder hy is nie duidelik wie die huidige beroepe georkestreer het nie, maar verduidelik dit is dikwels faksies wat na bewering by die munisipaliteit betrokke is wat inligting verskaf oor grond wat vir behuising geoormerk is.
Rosestad-nuus het probeer om die Mangaung Metro Munisipaliteit te kontak maar wag op kommentaar. Die MFSD en Motoko het onder meer die #MangaungShutdown-beweging ‘n paar jaar gelede gelei, wat talle diensleweringsbetogings behels het.
Die informele huise en strukture wat sedert die naweek reeds in Lourierpark in die suide van Bloemfontein opgerig is, is intussen vir nou eers daar om te bly. Luidens Sanco in Mangaung mag lede van die gemeenskap wat reeds behuisingstrukture opgerig het by die betrokke stuk grond bly.
Dit sê verder diegene wie reeds al ‘n stuk grond afgemeet het mag ook daar bly terwyl die Mangaung Metro Munispaliteit besig is om die situasie aan te spreek. Sanco sê in ‘n verklaring hulle vertrou die Burgemeester, Gregory Nthatisi, sal seker maak dat basiese dienste aan die hele Mangaung voorsien word.