Oor drie dae moet Zuma aanmeld vir tronkstraf

Daar is slegs drie dae oor, voordat oud-president Jacob Zuma moet aanmeld vir die uitdiening van tronkstraf.

Terwyl Zuma se dogter, Duduzile, volgens Netwerk 24, vroeër laat blyk het die familie sal haar pa na die Nkandla-polisiekantoor vergesel vir aanmelding, dreig sy seun Edward, dat niemand aan Zuma sal raak nie.

Die 15 maande tronkstraf volg nadat die grondwethof Zuma vandeesweek skuldig bevind het aan minagting van die hof.

Hy is vyf dae gegun om hom in Johannesburg óf Nkandla aan die polisie oor te gee.

Talle Zuma-ondersteuners het Donderdag na Nkandla opgeruk, om hulle leier by te staan.

Musa Cebekhulu, leier van Sanco in die Nkandla-streek, het bevestig dat hulle daar is om Zuma by te staan.

Hy het ook die versekering gegee dat daar, weens die Covid-19 situasie, geen massa-optogte sal wees nie.

Luister na potgooie hieronder