Namate Suid-Afrika sy koolstofvoetspoor verminder, bring dit geleenthede om ekonomies te groei, nywerheidsmededinging te verbeter, werk te skep en innovasie te benut. President Cyril Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief gesê die oorgang na ‘n lae koolstof en klimaatbestande ekonomie moet regverdig en inklusief wees, berig Netwerk 24. Die vermindering van die koolstofvoetspoor sal verseker dat die land se goedere en dienste in die toekoms mededingend bly. Ramaphosa het gesê die regering het ‘n investeringplan vir ‘n regverdige oorgang na groen-energie saamgestel. Dit behels om te belê in nuwe nywerhede soos groenwaterstof en elektriesevoertuie. Dit is van uiterste belang omdat SA se uitvoermarkte toenemend probeer om die negatiewe omgewingsimpak van die goedere wat hulle produseer en invoer, te verminder. Teen 2035 sal die Europese Unie die verkoop van petrol-en dieselaangedrewe motorvoertuie verbied.
