Die oorsaak van die akteur Matthew Perry van die trefferreeks Friends se dood, is gister afgehandel. Die 54-jarige Perry het aan ‘n oordosis ketamien gesterf. AFP berig die Los Angeles-kantoor van die mediese ondersoeker het bevestig dat sy dood die akute gevolge van die gebruik van die dwelmmiddel is. Bydraende faktore was dat hy verdrink het, ‘n kroonslagaarsiekte gehad het asook buprenorfien gebruik het. Sy dood is egter as ‘n ongeluk bestempel. Ketamien is ‘n onwettige dwelmmiddel wat gebruikers vir ontspanningsdoeleindes gebruik. Die middel kan ook deur dokters as ‘n verdowingsmiddel gebruik word. Perry is in Oktober vanjaar bewusteloos in sy swembad gevind en is kort daarna dood verklaar.