Opposisiepartye se tonge het vol kommer geklap oor die vermindering van die begrotingstoewysing vir die Departement van Verdediging en Militêre Veterane.
Minister Thandi Modise het gister die departement se begroting in die parlement ter tafel gelê.
Sy het gesê die departement se begroting is met ‘n halfmiljard rand gesny.
Sekere politieke partye glo dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag as gevolg hiervan nie sy mandaat gestand sal kan doen nie.
Van die opposisiepartye het gesê die R51 miljard wat vir hierdie boekjaar aan die departement toegeken word, is eenvoudig nie genoeg nie.
Bheki Cele, minister van polisie het intussen gesê die polisie se begroting vir die 2023-’24-boekjaar is in antwoord op die voortdurende klagtes van Suid-Afrikaners
oor die stand van misdaad in die land.
Cele het die polisie se begroting van R102 miljard vir 2023-’24 Dinsdag ter tafel gelê.
Hy het ʼn beroep op gemeenskappe gedoen om hul volle steun aan die polisie toe te sê ten einde misdaad te bekamp.
R70 miljoen is onder meer aan provinsies toegeken om gemeenskapspolisiëringsforums te ondersteun met broodnodige hulpbronne en 25 miljoen om polisiestasies te beveilig.
ʼn Bykomende 30 duisend rekrute sal volgens Cele vanjaar en gedurende die volgende twee boekjare opgelei word.