Die Amerikaanse stad Tampa se polisiehoof sê 15 mense is gered nadat ‘n boom op ‘n huis geval het tydens Orkaan Milton se sterk winde.
BBC News berig Lee Bercaw sê water het in die huis ingestroom, maar beamptes het daarin geslaag om die groep veilig te bereik en na ‘n plaaslike skuiling te verplaas. Tampa se brandweerhoof, Barbara Tripp, voeg by dat nog ‘n persoon met kopbeserings gered en hospitaal toe geneem is nadat ‘n boom op ‘n ander huis geval het.
Meer as drie miljoen huise en besighede is sonder krag, en daar is “verskeie sterftes” aan die Atlantiese kus gerapporteer.
Sommige dele van die staat beleef reënval wat net een keer in ‘n duisend jaar voorkom. Orkaan Milton het oornag naby Siesta Key aan land gekom as ‘n groot kategorie drie-orkaan.
Milton het aanvanklik winde van meer as 160 km/h gebring, wat kraglyne omgewaai en strukturele skade aangerig het. St. Petersburg en Tampa het meer as 45 cm reën ontvang, ‘n uitsonderlike gebeurtenis vir die gebied.
Alhoewel Milton se intensiteit verminder het terwyl dit oor land beweeg het, het dit steeds kategorie een-winde van tot 145 km/h oor Florida gehandhaaf.