Die voormalige sportheld, Oscar Pistorius, wat agter tralies is vir die 2013-moord op Reeva Steenkamp, het hom tot die Pretoriase hooggeregshof gewend om verwarring oor sy parool op te klaar. Maroela Media berig voorts hy het ‘n aansoek gebring om die hof te beveel om ‘n paroolverhoor te hou. Dit beteken nié dat hy op parool geplaas moet word nie, maar slégs dat hy hiervoor oorweeg moet word. Pistorius sou eers in 2023 vir parool in aanmerking kom, maar daar was glo ‘n berekeningsfout nadat die aanvanklike 500 dae wat hy in die tronk deurgebring het, nie getel is nie. Pistorius dien tans 13 jaar tronkstraf uit. Hy is aanvanklik tot 6 jaar tronkstraf gevonnis, maar dié vonnis is deur die Appèlhof in Bloemfontein verleng nadat die staat teen Pistorius se aanvanklike vonnis geappelleer het.
