Die oud-kovsie en boorling van die Vrystaat, Gerda Steyn, het gister nie net die Comrades Marathon gewen nie, maar ook Frith van der Merwe se 34-jaar oue rekord in die af-wedloop gebreek.
Sy het met die lied, Chariots of Fire, die Kingsmead stadion onder luide gejuig binnegedraf.
Die 33-jarige Steyn het die moordende 87,701 km wedloop in vyf uur, 44 minute en 54 sekondes afgelê.
In die afdeling vir mans, het Tete Dijana, die verdedigende kampioen, ook van Suid-Afrika, die rekord vir mans tot vyf uur, 13 minute en 58 sekondes verbeter.
Vanjaar se wedloop was 2,2 km korter as verlede jaar. Rosestad 100.6 FM, die mediaborg en die Pace Stigting was ook sigbaar by die eindstreep toe Dewald en Yolandi Viljoen van die stigting met ‘n banier ter herinnering aan Anchen Viljoen die stadion binnegedraf het.
Die vierjarige Anchen is in 2013 oorlede nadat sy aan ‘n seldsame breintoestand gely het.