Die uMkhonto weSizwe Liberation War Veterans, of MKLWV, het gesê oudpres Jacob Zuma pleeg die hoogste onheil deur die handelsnaam van die MK te gebruik vir sy eie onheilspellende en ondeurdagte doelwitte. Netwerk 24 berig die MKLWV is die amptelike struktuur van die oud-soldate van die ANC se destydse militêre vleuel en het uitgevaar daarteen dat Zuma gaan stem vir ‘n sogenaamde nuwe party, uMkhonto weSizwe. Zuma het egter gesê hy het nie die party gestig nie en dat die MK reeds amptelik as ‘n politieke party in September geregistreer is. Jabulani Khumalo is die stigter van die party en het gesê dit is gestig deur ‘n groep ANC-lede wat bekommerd is oor die koers wat die ANC inslaan. Die MKLWV meen die naam is gesteel en dat Zuma oneerlik is om woorde uit die manifes van die destydse MK aan te haal. Dit lyk asof die ANC nie tugstappe teen Zuma gaan doen nie want volgens kenners sal dit politieke lugtyd vir Zuma gee.
